Inspirational Quote
A real decision is measured by the fact that you've taken a new action. If there's no action, you haven't truly decided.
Tony Robbins
Powered By: Inspirational Quotes
October 2017
M T W T F S S
« Dec    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031  

Hit Counter provided by search engine optimization

Dertig Voertuie val vas in

Wapadsbergpas
CRADOCK
Die plaaslike polisie het Sondag ‘n grootskaalse reddingsoperasie onderneem toe nie minder nie as dertig voertuie in die kapok in Wapadsbergpas tussen Cradock en Graaff-Reinet vasgeval het.
Volgens kapt. Stefanie Smith, polisiewoordvoerder, is die polisie Sondagoggend om ongeveer 07:45 na die toneel ontbied nadat berig ontvang is dat ‘n persoon in een van die vasgevalde voertuie verkluim het. Sy sê lede van die polisie en die plaaslike K-9 honde-eenheid in ‘n Casspir en drie viertrekvoertuie het hulle onmiddellik na die toneel, ongeveer 70 km buite die dorp, gehaas.
“Ons het ten minste nege minibus taxis en so twintig privaat voertuie gekry waarin ongeveer eenhonderd persone oornag in die kniediep kapok in die pas vasgeval het ,” het Smith gesê maar bygevoeg dat daar darem geen oorledenes was nie.
Een van die voertuie, ‘n Mercedes Benz wat heel bo in die pas gestaan het, se bestuurder het beweer dat hy al van Saterdagmiddag 16:00 uur af daar gesit het terwyl ‘n ander persoon met sy voertuig Saterdagaand om 23:00 vasgeval het. Na verneem word was die meeste van die voertuie onderweg na Kaapstad.
Smith sê met hul aankoms op die toneel het die polisie die bestuurders en passasiers uit die voertuie laat klim en is daar op grootskaal gestoot. Gelukkig kon padwerkers wat opgedaag het grawe voorsien waarmee die voertuie se wiele uit die kapok gegrawe kon word. ‘n Stootskraper wat ook opgedaag het kon help om die pad oop te stoot sodat die noodvoertuie al die vasgekeerde motors kon bereik.
Al die voertuie is gelas om om te draai en hulle, met hul insittendes is na Cradock begelei vanwaar hulle aangeraai is om oor Port Elizabeth verder te reis. Volgens Smith was meeste van die betrokkenes onderweg na Kaapstad.
Die plaaslike polisie het Sondag ‘n grootskaalse reddingsoperasie onderneem toe nie minder nie as dertig voertuie in die kapok in Wapadsbergpas tussen Cradock en Graaff-Reinet vasgeval het.

Koud en nat in Oos-Kaap Middellande
Almal praat oor die koue en nat weer van die naweek. Besondere nat weer met goeie reënval.
Die reënval was hoog. Meer as die gemiddelde vir hierdie tyd van die jaar.
In Somerset-Oos is die gemiddelde vir Juliemaand 19mm die afgelope 20 jaar, maar oor die naweek het die dorp 42mm gehad. Dit het ‘n groot demper op die dorp se jaarlikse Biltongfees geplaas, maar nogtans het die mense in hul duisende die fees bygewoon op die Landbougenootskap se terrein.
Reënvalsyfers wat ons oor die Internet ontvang het, gee ‘n duidelike prentjie van die reënval.
Patensie se gebied het meer as 300mm gehad. Stormsriviermond 160mm
Sekere dele van Port Elizabeth naby 200mm. Oos-Londen veel minder met 40mm.

  • Uitenhage 79mm
  • Port Alfred 30mm
  • Graaff-Reinet 45mm
  • Cradock 23mm
  • Fort Beaufort 15mm
  • Grahamstad 47mm
  • Addo 46mm
  • Willowmore 64mm
  • Somerset-Oos 42mm
SOMERSET-OOS
DIE 22STE CASTLE LAGER OOS-KAAP BILTONGFEES SAL VIR ALTYD ONTHOU WORD…Eerstens vir die koudste en natste fees ooit en tweedens vir die ongelooflike ervaring wat dit meegebring het. Die fees was geensins ‘n mislukking nie en ons kan ons hoed afhaal vir organiseerders wat hulle bes onder die omstandighede gedoen het. Die organiseerders kan allermins kwalik gehou word as kunstenaars nie handtekeninge wil uitdeel nie. Daar was nouwel bykans die helfte mense minder by die fees as vorige jare, maar aan gees het dit beslis nie ontbreek nie en het die feesgangers wat wel die fees bygewoon het, hulle gate uit geniet, die manne en vroue wat in die biertent gewerk het kan dit getuig. Die hoogtepunt van die fees was beslis Theuns Jordaan se optrede in die volgepakte Castle Lager biertent, Vrydagaand, waar almal heerlik saamgesing en dans het.
Saterdagoggend is feesgangers begroet met ‘n aanvanklike heerlike sonskyn dag wat feesgangers genoeg tyd gegun het om al die wonderlike stalletjies te besoek en hulle biltong ensovoorts te koop. Daar was genoeg te ete en te drinke om die feesgangers lekker warm te hou. Volgende jaar maak ons weer so. Ons het die af-gelope paar jaar wonderlike weer tydens die fees gehad en volgens die wet van gemiddeldes sal slegte weer een of ander tyd die Biltongfeesnaweek tref.
Niemand kan die weer bestel of daarvoor kwalik geneem word nie. Ons dank die Here vir die wonderlike reën wat Hy ons gegee het. Verlede jaar hierdie tyd het ons een van ons ergste droogtes beleef.
Op bostaande foto verskyn die rolspelers wat die 2012 fees laat plaasvind het. Van links is Paul Jordaan, bekende seremoniemeester en vermaaklikheidskoördineerder van die Castle Lager Biltongfees, die Munisi-pale Bestuurder Mopo Mene, Marette Liddell die feeskoördineerder,Carlien Jooste, Design@Bay wat die bemarking van die fees behartig het, Riaan van Jaarsveld van Castle Lager die borg, Marjorie Scott die Burgemeester en Sarina Engelbrecht ook van Design@Bay.

Beroep op Melkkopers om Produsente-pryse
verantwoordelik te Bestuur
Mnr Dèan Kleynhans, voorsitter van die Melkprodusente-Organisasie (MPO), doen ’n dringende beroep op melkkopers om produsentepryse verantwoordelik te bestuur nadat verskeie melkkopers verlagings in hulle produsentepryse aangekondig het. Dit volg op verlede maand se skokkende aankondiging van ’n groot melkverwerker wat vergoeding aan melkboere met tussen 50c en 75c per liter verlaag het. Mnr Kleynhans sê beskikbare markinligting toon dat die huidige produsenteprysverlagings kontrasiklies en nie in lyn met marktendense is nie.
Melkkopers word gewys op die negatiewe effek van soortgelyke destruktiewe prysseine in die verlede en die hoë koste verbonde daaraan om melkvoorsiening reg te stel na sulke drastiese prysverlagings. Mnr Kleynhans noem ook dat die voortbestaan van die suiwelbedryf in die geheel bedreig word deur die lae produsentepryse in samehang met die onrusbarende koers waarteen melkprodusente se insetkoste verhoog het oor die afgelope paar maande.
Invoere stel teleur
Die MPO is teleurgesteld met die groot hoeveelhede suiwelprodukte, veral kaas, wat deur van die grootste kopers ingevoer is oor die afgelope drie maande. Volgens amptelike statistieke van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is in totaal sowat 3 600 ton Cheddarkaas en ses miljoen liters langlewe melk sedert April ingevoer waarvan die meerderheid na bewering deur kopers ingevoer is.
Die MPO meen dat die onlangse verlagings in produsentepryse dui op ondeurdagte bestuur van melk as roumateriaalbron. Onvoldoende produsentepryse lei tot ’n afname in produksie wat onder andere veroorsaak word deur produsente wat die bedryf verlaat. “Die mees suksesvolle melkkopers is dié wat hulle roumateriaalbron met die uiterste verantwoordelikheid bestuur,” sê mnr Bertus de Jongh, hoof uitvoerende beampte van die MPO.
Invoerders word daarop gewys dat hoewel dit voordelig mag lyk om laeprys produkte in te voer, die oorhoofse koste van hulle besighede steeds aan die ingevoerde prys toegewys moet word. Dit word eers sigbaar aan die einde van die jaar wanneer finale winssyfers bereken word.

GROOT VERANDERINGS KOM IN ONDERWYS
deur A.N. Venter
OOS-LONDEN
Die gesegde: “Nuwe besems vee skoon” het die afgelope Dinsdag weereens gestalte gekry toe die nuwe waarnemende Superintendent- Generaal vir onderwys in die Oos-Kaap, mnr. Tunywa Ngonzo toekomstige onderwysplanne aan bykans ‘n duisend skoolhoofde van oor die hele Oos-Kaap op ‘n vergadering by die Hoërskool Hudson Park uitgespel het. Mnr. Ngonzo is onlangs in die plek van die omstrede Modidima Mannya aangestel wat onder druk van onder meer die onderwysersvakbond, Sadou uit sy pos bedank het. Ngonzo het in sy toespraak verskeie prioriteite uitgelig wat hy hoog op sy werksagenda geplaas het. Dit sluit onder meer die volgende in:
Die implimentering van ‘n effektiewe Onderrig en Leerkultuur by skole. Die bevordering van maksimum skoolfunksionaliteit.
Kurrikulum bestuur en lewering. Hulpbronlewering en meer doelteffende finansiering van skole.
Doeltreffende leierskap, bestuur en administrasie in die onderwysdepartement, skole asook gemeenskappe.
Die daarstelling van infrastruktuur om te verseker dat elke Oos-Kaapse leerling ‘n dak oor sy kop het.
Ngonzo het in sy toespraak ook uitgevaar teen skoolhoofde wat te veel op hul Skoolbestuurspanne, sg.” SMT” steun. “Prinsipale moet self die leiding neem wanneer dit by besluite kom en hul skole doeltreffend bestuur”, het die onderwyshoof gesê.
NUWE WETGEWING:
Ngonzo het ook verwys na nuwe Nasionale beleidsinisiatiewe rondom onderwys wat tans onder bespreking is en tot radikale veranderings op onderwysvlak aanleiding kan gee. Dit sluit onder meer in:
1. Die hersiening van die huidige Kwintielstelsel waar beoog word om Kwintiele 1 tot 3 (die armste en sg. Geen Fooi skole) in ‘n enkele kwintiel saam te voeg en Kwintiele 4 en 5 (Skoolfooi betalende skole) saam te voeg met die opsie dat ook lg. vir Geen fooistatus aansoek kan doen.
2. Die Kategorisering van skole gaan ook hersien word. Slegs twee kategorie skole word in die toekoms beoog nl. Primêre Skole (Graad R tot 7) en Sekondêre skole (Graad 8 tot 12 ).
Gekombineerde skole wat onderrig van Graad R tot Graad 12 bied sal dus geskei word en daar sal ook weggedoen word met die oorblywende ander 45 grade van skole.
3. Rasionalisering van skole waar alle skole met ‘n leerlingtal van minder as 46 gesluit gaan word. Skole met ‘n leerlingtal van minder as 135 sal ook gesluit word en met ander skole amalgameer. Dit, het die onderwyshoof gesê moet vanjaar nog gebeur.
4. Die hersiening van die huidige prestasiebeoordelingstelsel vir onderwysers en skoolhoofde.
Ngonzo het ook aangekondig dat die onderwysdepartement voorts self die bestelling van handboeke en Leerling/Onderwysers Ondersteuningsmateriaal sal behartig. Nog ‘n radikale verandering is dat skooldistrikte in die Oos-Kaap van 23 tot slegs 8 verminder gaan word. Hierdie, en nog vele ander aankondigings dui daarop dat hierdie weereens ‘n uiterse dramatiese jaar in die geskiedenis van die Oos-Kaapse onderwysdepartement gaan wees.

Read inside this edition / Lees binne hierdie uitgawe
  • Consumers Owe R4,7 Billion in Outstanding Rates and Service Fees
  • Sneeu val in Middelburg
  • GADI Outreach and Extension Programme
  • Geen Angoravrekter sover aangemeld nie
  • Cradock en Middelburg se waterkwaliteit resultate vir Junie

The Somerset Budget is now available in full colour. (PDF)
Please contact us for more information.