Inspirational Quote
I never think of the future - it comes soon enough.
Albert Einstein
Powered By: Inspirational Quotes
October 2017
M T W T F S S
« Dec    
 1
2345678
9101112131415
16171819202122
23242526272829
3031  

Hit Counter provided by search engine optimization

July 26, 2012

Onverskillige Taxibestuurder

ruk Cradock tot Stilstand
Bring Smart aan Onskuldige Families
CRADOCK
Onverskillig, onverantwoordelik noem dit wat jy wil, dit kan nie goedgepraat word nie. Hierdie optrede deur ‘n doodsveragtende taxibestuurder wat sy eie en 16 ander mense se lewens geneem het toe hy Saterdagoggend, 17km buite die dorp hier, na verneem word, twee ander voertuie op ‘n blinde hoogte verbygesteek en met sy sleepwa in tou, trompop in Laerskool Cradock se skoolbus vasgejaag het, het die dorp en omgewing tot stilstand en in skok en ongeloof geruk!
Laerskool Cradock se skoolbus was om 06:30 op die R61 tussen Cradock en Graaff-Reinet oppad na laasgenoemde dorp om teen Laer Volkskool kragte in rugby, netbal en hokkie te meet. Die 22 sitplek minibus-taxi was met sy 23 (tesame met die bestuurder) insittendes vanaf Kaapstad oppad na Engcobo in Transkei.
Die res van die verhaal sal vir ewig in die gemeenskap van Cradock se geheues vasgebrand wees. Die geliefde skoolhoof, Willem Johannes (Wimpie) van der Merwe (53), ‘n graad 3-leerder van die Cradock Voorbereidende Skool, Stefanus Cornelius (SC) Ferreira (10) en 14 onskuldige insittendes in die minibus-taxi tesame met die onverantwoordelike bestuurder het in die ongeluk omgekom.
SC is die oudste seun van Corné en Sandra Ferreira van Cradock. Sandra is ‘n nooi Stoutjesdyk wat op Somerset-Oos grootgeword het. Sy ouers het hom as ‘n absolute seën beskryf wat lief was vir die lewe en sport.
Van der Merwe was vir die afgelope 3 en ‘n half jaar die skoolhoof van Cradock. Hy was ‘n voorvatter en leier wat baie in die kort tydjie aan die stuur van sake by die skool vermag het. Hy sal ook onthou word vir sy empatie met dié wat minderbevoorreg is en die trots waarmee hy die skool se 0/13-rugbyspan afgerig het en na nuwe hoogtes gevoer het. Wimpie het ‘n verskil in die gemeenskap van Cradock en skool gemaak en sal waarlik gemis word.
Ons harte gaan ook uit aan die onskuldige insittendes van die minibus-taxi, wie se name nog nie bekendgemaak is nie, se familie in hierdie tyd van rou.
Benewens die verlies van bogenoemdes het vier van die skool se senior onderwysers ernstige beserings in die ongeluk opgedoen en word hulle in hospitale in PE en Bloemfontein behandel. Dit sluit in die adjunk-skoolhoof, Alfie Blume, asook Mariette Adams, Jacques de Meillon en Ray-Jean Wright. Nog ‘n onderwyser, Henry Green, asook van die leerders wat in die 50-sitplek bus was, het ligte beserings opgedoen.
Adams is na ‘n operasie aan haar kakebeen ontslaan. Wright se linkerarm en regter pinkie is gebreek terwyl De Meillon vir ‘n ernstige rugbesering behandel word. Blume wat ook ernstige inwendige en gesigbeserings opgedoen het se toestand is tans stabiel. Twee jong insittendes van die minibus-taxi het wonderbaarlik aan die dood ontkom en is met geringe beserings uit die hospitaal ontslaan.
Laerskool Cradock was Maandag gesluit agv ‘n gebrek aan leerkragte en die gebeure oor die naweek. Leerders en leerkragte is egter Dinsdag almal skool toe om individuele sowel as groepsberading van ‘n sielkundige van PE te ontvang. Die skool sal Dinsdag, Donderdag en Vrydag gesluit wees sodat hulle die teraardebestellings van hul skoolhoof en medeleerder kan bywoon.
Gemeenskappe
Ons gemeenskappe van die verskillende omliggende dorpe is so ineen geweef met mekaar dat skokkende insidente soos hierdie almal diep raak. Ons deel almal, aan die einde van die dag, in mekaar se lot en smarte. Kerke en skole van die omliggende dorpe het almal hulp, bystand of simpatie op een of ander manier aan die naasbestaandes en skole betoon. Ons harte gaan dus uit aan Elsabé van der Merwe, die eggenote van Wimpie, sy seun Luwaldo, en sy drie stiefkinders, Theo, Elsa en Charles Ferreira, die ouers van SC, Corné, Sandra, jonger boetie Jaco en familie asook die families van die afgestorwe insittendes van die taxi. Ons dink ook aan al die kinders wat deur die trauma van die ongeluk geraak is asook aan al die medewerkers en ouers wat op die toneel moes bontstaan om orde uit die chaos te skep en te help dokter en kalmeer totdat die ambulansdienste, polisie en dokter opgedaag het. Ons bid vir vertroosting, genesing en emosionele heelmaking in hierdie tyd van rou en onsekerheid. Die troosdiens van Wimpie vind plaas op Donderdag 11h00 vanuit die NG Kerk Cradock Noord terwyl SC Ferreira se troosdiens op Vrydag om 10h30 vanuit die NG Moederkerk sal geskied. Lees ook verklaring van Laerskool Cradock te-same met Cradock Voor-bereidende skool elders in hierdie uitgawe asook oor die LUR se besoek, en ds Paul Odendaal opmerkings onder Ade-laide nuus. ‘n Spesiale hulpfonds is geskep vir die skool en donasies kan inbetaal word as volg: Primêre Skool Cradock Rampfonds, ABSA spaarrekeningnommer – 9275371770.
Die vriendelike en geliefde skoolhoof, Willem Johannes (Wimpie) van der Merwe (53), wat in die ongeluk omgekom het, saam met sy eggenote Elsabé.
Stefanus Cornelius (SC) Ferreira (10), wat ook noodlottig in die ongeluk beseer is.
Skoolbus van Laerskool Cradock wat reg van voor deur ‘n minibus-taxi getref is.
Die wrak van die minibus-taxi wat Saterdagoggend, na verneem word twee ander voertuie op ‘n blinde hoogte verbygesteek het, en in die skoolbus van Laerskool Cradock ingeploeg het. Slegs twee insittendes van die taxi het die ongeluk oorleef.

PERSVERKLARING

LAERSKOOL CRADOCK EN
VOORBEREIDINGSKOOL CRADOCK
Hiermee maak ons met groot leedwese die afsterwe van ons geliefde skoolhoof, mnr. W.J. van der Merwe en graad 3-leerder, S.C. Ferreira, bekend.
Namens die Beheerliggame, Personeel, leerders en ouers van beide skole wil ons ons innige meegevoel betuig teenoor die naasbestaandes van die afgestorwenes. Ons wil ons hartlike dank uitspreek teenoor alle persone en organisasies wat behulpsaam was op die ongelukstoneel en tydens die behandeling van beseerdes by die hospitaal. Die wondelrike samewerking en ondersteuning van die hele gemeenskap is vir ons van onskatbare waarde.
“n Spesiale hulpfonds is geskep en donasies kan inbetaal word as volg: PRIMêRE SKOOL CRADOCK RAMPFONDS, ABSA Spaarrekeningnommer 9275371770.
Mnre. A.C. Blume, J. de Meillon, R.J. Wright en me. M. Adams, personeel van die Laerskool, wat tydens die ongeluk beseer is, is stabiel.
Begrafnisreëlings is as volg:
Troosdiens: W.J. v.d. Merwe vind plaas op Donderdag, 26 Julie 2012, om 11:00 vanuit N.G. Gemeente Cradock-Noord. Verversings na afloop van die diens by Laerskool Cradock.
Troosdiens van S.C. Ferreira (10), vind plaas op Vrydag, 27 Julie 2012, om 10:30 vanuit die N.G. Moederkerk.
Beide skole is slegs Dinsdag, 24 Julie en Woensdag, 25 Julie vir leerders oop vanaf 08:00 tot 12:00. Berading van personeel en leerders van die Laerskool sal Dinsdag ‘n aanvang neem, in individuele sowel as groepsessies o.l.v. Gerhard Goosen, ‘n sielkundige vanaf Port Elizabeth, sal met behulp van ‘n groep beraders die leerders bystaan om hierdie traumatiese gebeure te verwerk. Donderdag en Vrydag is daar geen skool nie, maar leerders van Laerskool Cradock woon, op versoek van die familie, die troosdiens in die Noordkerk vrywillig by. Ouers kan hul kinders na die troosdiens vergesel. Na afloop van die diens, sal verversings by die skool voorgesit word. Na voltooing van die berading van die leerders, sal huldeblyke tydens ‘n spesiale saalbyeenkoms by die skool gehou word.
Daar sal geen formele onderrig hierdie week in CLS plaasvind nie en die senior bestuurspan sal die personeelvoorsiening, in samewerking van die Dept. van Onderwys, beplan, sodat onderrig Maandag hervat kan word. Me. Marietjie Maree is as waarnemende skoolhoof aangestel. Mnr. Du Toit van der Merwe, voormalige skoolhoof, sal in die Adjunkhoofpos waarneem en ander personeellede sal gedurende die week benoem word, om die plek van die beseerde personeel vol te staan.
Laerskool Cradock wil hul opregte dank aan die gemeenskap van Cradock, omliggende dorpe, asook vanuit die hele Suid-Afrika uitspreek vir al die gebede, ondersteuning en hulpverlening. Spesiale dank aan die dokters en personeel van die plaaslike Provinsiale Hospitaal vir die bekwame wyse waarop u die krisis Saterdagoggend hanteer het.
Wimpie van der Merwe het as held vir sy geliefde skool gesterf. Hy het in die breukdeel van ‘n sekonde besef dat hy nie die ongeluk kon vermy nie en het die volle impak van die botsing op homself laat neerkom. Ons salueer u vir die onselfsugtige heldedaad wat aan Laerskool Cradock bewys is.
Ons wil ons innige simpatie uitspreek oor die naasbestaandes van die minibus-taxi, wat ook hul geliefdes in hierdie tragiese ongeluk verloor het. Te midde van ons groot hartseer oor ons verlies, is ons opreg dankbaar teenoor ons Hemelse Vader, wat Sy hand van bewaring oor die leerders en personeel gehou het en wat ons in hierdie tyd met Sy liefde omvou.

AFRIFORUM-TAK IN MIDDELBURG GESTIG
Die burgerregtelike organisasie AfriForum, het ‘n nuwe tak in Middelburg Oos-Kaap gestig, wat sy huidige aantal takke op oor die 80 te staan bring.
Die stigting van die tak het ten doel om die gaping te vul tussen die staat (plaaslike regering / Munisipaliteit) en die wetsgehoorsame burger om toe te sien dat belastingbetalers selfstandig onder die vaandel van AfriForum, hulle grondwetlike regte beskerm.
Om die doel te bereik, is dit uiters noodsaaklik dat die gemeenskap van Middelburg in groot getalle by die plaaslike tak aansluit. Met genoeg lede het die gemeenskap, deur AfriForum, toegang tot die beste regsdienste van AfriForum, met ‘n minimum bydrae van so min as R30 per maand.
Middelburg inwoners se probleem tot dusver was dat regsoptrede buite die bereik van die publiek was a.g.v. ‘n gebrek aan kennis en/of fondse. Die geleentheid word nou geskep om met hierdie minimum bydrae, met genoeg lede, toegang te kry tot hierdie dienste.
Daar word nou ‘n laaste poging aangewend om die regte van die publiek te beskerm. Almal in Middelburg kla, maar niemand doen iets nie. Sou daar nie genoeg lede by die plaaslike AfriForum-tak aansluit nie, sal ons maar moet terugstaan en (verder) geboelie word. Kom nou Middelburg – sluit nou aan en laat jou donasie tel – tot jou eie voordeel en die toekoms van die dorp. Vir die eerste keer kan die geblaf van die Middelburg belastingbetalersvereniging en individue se pogings in byt verander.
Om aan te sluit kan u vir Eric Louw skakel by 083 286 5759 of Chris Oberholzer by 082 830 8278. Vorms is beskikbaar by ontvangstoonbanke van Leana Bloemiste en Trio Trust Finansiële Dienste.
AfriForum se suksesse landwyd op plaaslike regeringsvlak is legio. Ivan Herselman, AfriForum-takorganiseerder, by 072 538 8458 kan gekontak word indien u besonderhede verlang oor die betrokkenheid en suksesse van AfriForum by ander dorpe wat soortgelyke probleme as ons ervaar het.
Ons sien uit om u welkom te heet by die Middelburg AfriForum-tak, waar u bydrae ‘n sigbare verskil gaan maak.
Die Belastingbetalersvereniging sal dan ophou bestaan. Lede het verder die keuse om hul geld terug te kry, of dit oor te plaas na AfriForum.

Read inside this edition / Lees binne hierdie uitgawe
  • LUR vir Onderwys se besoek aan Cradock Laerskool
  • Wanneer is dit ‘n ongeluk en wanneer is dit moord?
  • Cradock Distrikslandbou-unie kies nuwe Bestuur
  • Mandela 67 minutes Clean up Campaign
  • Somerset-Oos se Victim Support Centre
  • Koekie de Villiers na Amerika
  • DA discover thousands of textbooks destroyed in EC.

The Somerset Budget is now available in full colour. (PDF)
Please contact us for more information.